Jan van Riebeeck stigtingsdag aanbieding 6 April 2022
“Die berggans het sy veer laat val, anderkant die krans
by Wupperthal, met hierdie veer wil ek vir jou kom sê hoe ver en wyd my liefde
vir jou lê!”
“Ruik jy katbos en ruik jy kambro, as dit reën in die
Klein Karoo, my hantamwind, my optelkind vanaand, by my vanaand ...”
Wat maak dat ons hier vandag by mekaar is, die
generasies en dekades uit mekaar, ons wonderlike onderwysers en ons helde wat
die gereël het? Net een ding: Afrikaans. Die mooiste taal, Afrikaans! Engels is
vir die kop, Afrikaans is vir die hart!
Baie dankie dat ek hier kan wees Helena, baie dankie
Meneer Rademeyer en jou personeel, die beheerliggaam en die Alumni wat dit
alles moontlik maak. My groot dankie vir julle wat alles is, julle wat hier kom
leer en ons soveel by jou kan leer!
Amper een honderd jaar verby, nog net vier om te gaan en
so wonderlik om nou hier op die ses-en-negentigste herdenking te kan wees.
Julle vertel vir niemand … ons gryskoppe was ook maar
stout, Saterdae dan mag ons Rogge die middag gaan fliek, oo nee, ons sluip af
tot Kloofnekweg en kruip agter ‘n boom weg dat Meneer Malherbe ons nie mag sien
nie, dan gooi ons duim en daar gaan ons, na die plek in die Suidelike Halfrond
met die mooiste meisies per vierkante meter, Clifton se derde strand!
Ten spyte van my beperkinge is en was en is ek lief vir Wiskunde en somme maak, ses uur die aand in die studiesaal sal ek gou die Boekhou en Wiskunde huiswerk doen en dan stuur my boeke aan vir die ander skelms om af te skryf. Hulle betaal my dan met Bar Ones!
O en toe word ou Piet siek en dan het sy oom wat ‘n
dokter was hom soms by die skool kom haal. Al vier honderd van ons sal dan oor
die muur hang en in Kloofstraat kyk en skree, “Daar kom hy!” Wie? Dokter Chris
Barnard!
Saam met my was ook paar oulikes, Derick Hanekom die
minister, Laurika wat so mooi sing, “Kinders van die Wind”, Beyers Truter wat
die heerlikste rooi wyn maak, die dierbare Herman Binge wat die mooiste
rolprente vir ons gee. Hy het hier om die draai gewoon, nou vanjaar oorlede ...
En Johan Stemmet wat ons met Noot vir Noot ons vermaak, ook lekker onlangs in
Johannesburg vir ure stories met hom kon deel.
So ... waar is ons vandag? Deurmekaar tye, virusse,
oorlog al weer, politieke warboel. Groter as alles is die vierde revolusie,
robotte vat oor! Dit raak elkeen van ons groot en klein. Karre gaan almal een van die dae self rond ry. Banke sluit honderde takke, Ons leer sommer van die
huis, skole nie meer nodig. Hand arbeid daarmee heen, geleerde vele beroepe ook
so. Hulle sit in Amerika en hulle weet ons is nou hier en sal net nou ‘n
eetplek in Kloofstraat aan ons op Facebook adverteer. Wat gaan gebeur, wat gaan
ons oueres en jongeres doen? En julle in die onderwys?
Die mens is ‘n trop dier ons wil saam lag, ‘n traantjie
af vee, ‘n klappie soms gee en dinge deel, dit word weggeneem.
Kaapstad al meer verEngels. Net laas week met en my gym
maat en die vorige skoolhoof oor meer as vier-en-twintig jaar van Groote Schuur
Laerskool sy dinge hieroor gedeel. Hoe gaan alles uitwerk? Hoe?
O en fopnuus, “Moet ek laat inspuit of moet ek nie?”
Ek kyk na ons personeel, so oulik die klompie Vrystaters
en Kovsie studente wat hier is! Ou Pik Botha, hy was vir jare lank ‘n minister
van Buitelandse sake, het gesê, “Vrystaters is mos anders, hulle het nie
grense nie, hulle kyk vêr en wyd want die Vrystaat het nie berge nie, die
horisonne hou net aan en aan!”
Toe ek in standerd nege was, oeps graad elf, komende uit
die Noord Kaap is Engels ‘n vreemde ding, dit was soos Grieks! My punte maar
pateties. Moet toe ‘n opstel skryf oor diere jagtery, sit my hart daar in, ek
haat hulle wat diere vir die pret doodskiet. Juffrou Smalberger hou my agter,
sy sê, "Jy het die beste opstel geskryf wat ek in tye gelees het! Jou hart
is daar in!”
Sy bly ‘n rukkie stil, “Dan sal ons twee bietjie werk
aan jou spelling en jou tenses. Sal jy elke Donderdag tweede pouse hier agter
bly dan help ek jou?
My punte styg tot amper tagtig persent!
Sy sien die positiewe eerste, kry my vertroue en help my
om alles te oorwin. Onlangs was ons halfeeu reunie en wie was ook daar? Juffrou
Smalberger, my grootste held!
So en wat gaan gebeur? Vele beroepe daarmee heen soos
die robotte oorneem. Wat moet jy gaan leer? Skole word deur eLeer bedreig, ons
saam wees as mense al minder terwyl ons op die fone tik. Onder ons jong mense
neem selfmoorde met meer as vyftig persent toe … Wat kan ons almal daaraan
doen?
Julle onderwysers is die Juffrou Smalbergers soos
niemand anders nie, jou werk is die heel belangrikste. Ons oueres moet luister
en idees deel, hulle aanmoedig om te vlieg en julle jonges, soek die Smalbergers in jou lewe en jy sal nooit jammer wees nie.
So wat gaan ons doen? Wees menslik, bly stil en luister. Doen wat
robotte nie kan nie, om om te gee.
Sien die mooie eerste raak soos Juffrou Smalberger. “Any fool can
judge and criticize and most fools do!” van Dale Carnegie. Wees saam ons is
trop diere en kliek kliek is nie goed genoeg nie. Help ander en julle jonges
help die Laerskool outjies, ons oueres weer is
daar en reg vir julle en ons leer saam.
O Langenhoven, Sagmoedige Neelsie, het in 1914 die
owerhede oortuig om Afrikaanse skole te begin en dit so mooi saam gevat, ”Voor jy dinge glo, kry eers die feite, voor
jy oordeel, probeer eers verstaan, voor jy seermaak, voel self hoe dit is en
voor jy praat, dink ...”
Die belangrikste ding vir ons almal om te weet is dat ons nie weet
nie. Omring jou met ander anders as jouself.
Elkene van ons MOET elke dag vir ten minste twintig minute
doodstil wees. Wees alleen, sit alles af kyk vêr en haal diep asem en dit sal
jou kop skoon maak en jou soveel beteken.
Om af te sluit, die heel heel belangrikste vir elkene van ons:
”WEES JOUSELF!!!”
Baie dankie!
Erkenning
vir bydraes tot aanbieding:
·
Boerneef en Coenie de Villiers vir gedigte.
·
Mnr Anton Meyer oud skoolhoof van Groote Schuur Laerskool.
·
Hannie Futcher en Dr Johan Brink 1959 alumni.
·
Hennie Greeff en die 1969 alumni wat oor jare dinge deel.


Comments
Post a Comment